Wednesday, October 15, 2008

Lewens Doel. deur Solly Ozrovech

Lewens doel: deur Solly Ozrovech

“Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom” ps. 90:12

“Jou lewe moet ‘n doel hê. Hierdie gedagte moet boaan jou sakelys van elke dag staan. ‘n Mens moet iets hê waarna hy streef, waarvoor jy werk, waarna jy reikhalsend uitsien. Bevestig jou doelwit vir elke dag en strewe onverpoosd daarna.”

Jy moet terdeë besef dat jy sonder geloof totaal verlore is. Dit is die beginsel of vertrekpunt van elke dag. ‘n Beginsel is ‘n eerste ding waardeer al die ander dinge bepaal word. God is die beginsel van die heelal, die Alfa. Wees daarom daagliks van God bewus. Vertrou Hom vir die geringste dingetjies en elke dag sal ‘n geloofsavontuur van heerlike opwinding wees.

Die teenoorgestelde van geloof is vrees en dit is ‘n vyand wat ons daagliks martel. Identifiseer elke dag jou vrees sodat dit jou nie voortdurend regeer nie. Maak jou dagspreek die woorde van Hebreërs 13:6 …”die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen?” Leer om lief te hê; om God bo alles lief te hê: jou huisgenote, jou werksgenote en jou landgenote. Liefde dryf die vrees uit ons lewe uit: waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees….(1Joh. 4:18).

Elke dag is ‘n vakleerlingskap of proeftydperk vir ewigheid. Die lewe grens aan die ewigheid en is ‘n voorbereiding daarvoor. As ek elke dag reg tel en die tyd uitkoop; as ek lewe soos die Heiland dit van my verwag, leef ek nie meer in vrees vir die ewigheid nie.

Probeer vir ‘n paar weke om elke oomblik van elke dag op ‘n konstruktiewe wyse te benut. Moenie verbaas wees as jy dan spoedig by daardie groep mense aansluit wat ‘n gesindheid van liefde teenoor die lewe ontwikkel nie, wat elke dag gelukkig is, wat elke dag met ‘n glimlag op die gesig en diepe dankbaarheid in die hart tegemoetgaan. Hou daarom die gebed in jou hart: “leer my my dae so gebruik dat ek wysheid bekom!”

No comments: